Meer oor Sonop

Hoe lyk Sonop

Sonop beslaan ses ou burgererwe in die boomryke Brooklynomgewing - skaars een kilometer vanaf die UP hoofkampus. Anders as die ander manskoshuise op die kampus, bestaan Sonop nie uit 'n groot gebou met gange en kamers nie, maar uit mansjoene (klein huisies) met vier kamers elk waar inwoners vanaf hulle tweede studiejaar woon. Tussen die mansjoene is groen grasperke en mooi tuine wat 'n regte huislike atmosfeer skep.

Die eerstejaars woon in die Stalle, die pastorie of die Bloutrein - elkeen met sy eie unieke karakter en atmosfeer.

Sonop is in streke verdeel. Die Weste, Ooste, Noorde en Sentraal het net soos die eerstejaars se woonplekke elkeen hulle eie styl en manier van dinge doen. Elke streek het sy eie informele leier wat jaarliks deur die streek onderling verkies word: die Weste se Godfather, die Noorde se Hoofsaag, die Ooste se President en Sentraal se Hoofpaal.

Internet

Sonop was destyds die eerste koshuis by UP wat internettoegang vir sy inwoners gebied het. Elke Sonopper het 24 uur per dag onbeperkte internettoegang. Die "wireless" netwerk maak dit vir die inwoners moontlik om enige plek op die terrein saam met mede-studente op hulle skootrekenaars aan groepsopdragte te werk of op die tuinbank voor hulle kamers eposse vir hulle familie en vriende wereldwyd te stuur.

'n Hoogs professionele maatskappy is verantwoordelik vir die oorhoofse instandhouding van die netwerk terwyl 'n "Internet-komitee" wat uit huislede bestaan, die grondvlak adminstrasie saam met die koshuishoof en adminsitratiewe dame behartig.

Troeteldiere

Elke seniorstreek in Sonop (Ooste, Weste en Noorde) word toegelaat om 'n hond as troeteldier aan te hou. Besoekers word gewoonlik deur 'n paar van die honde begroet.

Hierdie honde het alles behalwe 'n hondelewe - inteendeel - hulle lewe soos konings !

Sonop se honde is 'n gereelde gesig by rugbywedstryde op LC de Villiers waar hulle saam met 'n eerstejaar aan 'n leiband die skouspel op die veld gadeslaan. Ook tydens huisvergaderings word daar vir hulle plek gemaak om deel te wees van die belangrike beraadslagings van die inwoners.

Elke hond moet deur 'n "inlywingseremonie" gaan alvorens hy as 'n Sonopper aanvaar word en sy sertifikaat ontvang.