Oor Ons

Meer Oor Ons

Hoe lyk Sonop

Sonop beslaan ses ou burgererwe in die boomryke Brooklynomgewing - skaars een kilometer vanaf die UP hoofkampus. Anders as die ander manskoshuise op die kampus, bestaan Sonop nie uit 'n groot gebou met gange en kamers nie, maar uit mansjoene (klein huisies) met vier kamers elk waar inwoners vanaf hulle tweede studiejaar woon. Tussen die mansjoene is groen grasperke en mooi tuine wat 'n regte huislike atmosfeer skep.

Die eerstejaars woon in die Stalle, die pastorie of die Bloutrein - elkeen met sy eie unieke karakter en atmosfeer.

Sonop is in streke verdeel. Die Weste, Ooste, Noorde en Sentraal het net soos die eerstejaars se woonplekke elkeen hulle eie styl en manier van dinge doen. Elke streek het sy eie informele leier wat jaarliks deur die streek onderling verkies word: die Weste se Godfather, die Noorde se Hoofsaag, die Ooste se President en Sentraal se Hoofpaal.

Internet

Sonop was destyds die eerste koshuis by UP wat internettoegang vir sy inwoners gebied het. Elke Sonopper het 24 uur per dag onbeperkte internettoegang. Die "wireless" netwerk maak dit vir die inwoners moontlik om enige plek op die terrein saam met mede-studente op hulle skootrekenaars aan groepsopdragte te werk of op die tuinbank voor hulle kamers eposse vir hulle familie en vriende wereldwyd te stuur.

'n Hoogs professionele maatskappy is verantwoordelik vir die oorhoofse instandhouding van die netwerk terwyl 'n "Internet-komitee" wat uit huislede bestaan, die grondvlak administrasie saam met die koshuishoof en adminisitratiewe dame behartig.

Troeteldiere

Elke seniorstreek in Sonop (Ooste, Weste en Noorde) word toegelaat om 'n hond as troeteldier aan te hou. Besoekers word gewoonlik deur 'n paar van die honde gegroet.

Hierdie honde het alles behalwe 'n hondelewe - inteendeel - hulle lewe soos konings !

Sonop se honde is 'n gereelde gesig by rugbywedstryde op LC de Villiers waar hulle saam met 'n eerstejaar aan 'n leiband die skouspel op die veld gadeslaan. Ook tydens huisvergaderings word daar vir hulle plek gemaak om deel te wees van die belangrike beraadslagings van die inwoners.

Elke hond moet deur 'n "inlywingseremonie" gaan alvorens hy as 'n Sonopper aanvaar word en sy sertifikaat ontvang.

Huislied

Zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi

Op die plaas is daar net een huis
Noem 'n plek en daar is ons tuis
Bittermin kan 'n Sonopper wees
Want ons gee onsself om lojaal te wees

Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi

Met Oom Gert en Pluto tesaam
Steel ons bordjies, bou ons 'n naam
Die Nonnie se maalvleis en tjips bring verdriet
Neem net kennis om toeter te blaas is verbied

Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi

Nietemin dit bly steeds 'n fees
Om 'n lid van Sonop te wees
Waarom sal ons oor die poefplaas wil huil
Want wie wil tradisie vir luuksheid verruil

Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem Garribaldi
Zoem Garri garri garri zoem

Voorsitter: "Van Sonop"
Huislede : "Tot laat"
Voorsitter: "Al hoe meer"
Huislede : "Kwaad"
Voorsitter: "Laat die beile"
Huislede : "Huil"

Die huislied is in 1976 geskryf deur Kobus Segers op die wysie van 'n tradisionele Turkse volksliedjie. Waar tans "Pluto" gesing word was aanvanklik "Pote" wat toe die koshuis se hond was. Die bedoeling was dat die huislied sou verander soos wat die hond in die koshuis verander maar om een of ander rede het die naam "Pluto", wat toevallig Pote se seun was, vas gesteek.

Gelukbringers

44

1932 : Twee Sonoppers en twee Kollegemanne steel vir Oom Gert en na enkele wedervaringe neem hy sy tuiste in Sonop in. (Sien 60 jarigefeesblad p.15)

1939 : Figuur wat as onderbroekadvertensie gedien het word gesteel en Garribaldi gedoop.

1942 : Kollege en Voortrekker probeer onderskeidelik om vir Oom Gert te steel maar is onsuksesvol.

1942 : Onderstepoort slaag daarin om vir Oom Gert te ontvoer en ketting hom aan sy hand vas. Toe Sonop hom terugsteel moes hulle sy hand afsaag. Oom Gert het ongelukkig eers in 1998 weer volle gebruik van sy hand herwin.

1944 : Kollege ontvoer vir Oom Gert en kort na hulle Vergeet-my-nie.

1950 : Vergeet-my-nie se gelukbringer (Olifant wat tans Jasmyn se gelukbringer is) word buitgemaak.

43

1950 : Wits steel vir Oom Gert.

1956 : Sonop skenk 'n kameelperd aan Asterhof as gelukbringer.

1963 : Brandwag op NKP se gelukbringer word gesteel.

1972 : "Grasie" van Asterhof word gesteel, gebruik vir foto's en weer terugbesorg sonder dat die dames daarvan bewus is.

1975 : Kollege se gelukbringer, "Sarge Bourke" word gesteel.

1976 : Die Sonopvlag word amptelik in gebruik geneem.

1999 : Oom Gert word deur Madelief gesteel maar ervaar sy nuwe tuiste as baie onaangenaam en vind gou weer sy pad terug na Sonop. 

Tradisies

Sedert Sonop se ontstaan in 1917, het 'n groot getal mense al aan Sonop geskaaf terwyl Sonop aan hulle skaaf. So het die koshuis dan 'n ryke tradisie ontwikkel wat vandag een van die aspekte van die koshuis is wat elke Sonopper groot trots gee.

'n Groot klomp van Sonop se tradisies is vir die buitewereld onbekend en af en toe glip die woord nagligte of oliegedroggies oor 'n Sonopper se lippe wat almal laat wonder. Slegs nagenoeg vyftig studente het jaarliks die voorreg om deel van die familie te word en aan hierdie tradisies deel te he.

Bordjies:

Sonop bied aan eksterne instansies die geleentheid om gratis te adverteer op Sonop se perseel. Sonoppers neem dan ook die verantwoordelikheid om die nodige reklamemateriaal (bordjies in die tipiese geval) by die instansies te gaan afhaal en by Sonop aan te bring. Die eerste bordjie, "Blossom's Delight" het omstreeks 1939 voor kamer 71 en 72 sy verskyning gemaak. Tans is daar meer as 700 bordjies wat in Sonop pryk

Baadjie en das:

Dit is algemene kennis dat die bes geklede student op kampus sonder twyfel 'n Sonop ienk is. Daarom dat die swaksgeklede student op kampus goed moontlik 'n Sonop semmie is maar dit vir eers ter syde. Sonop eerstejaars word geken aan hulle netjiese voorkoms soos wat hulle in pakke klere op kampus rondloop.

Etes:

Etenstye in Sonop bly maar telkens 'n belewenis. Met die deftig geklede eerstejaars wat die Seniors bedien en Nonnie (ons matrone) se kreatiewe geregte, sorg etenstye elke dag vir groot opwinding. Sonop se etes verskil wesenlik van ander koshuise s'n en veral in die opsig dat al die Sonoppers saam aansit vir ete. 

Reëls en regulasies

Ter wille van die goeie orde in die koshuis beskik Sonop oor sy eie stel huisreels wat aan die eenkant in lyn is met UP se bree koshuisbeleid maar aan die anderkant ook voorsiening maak vir die uniekheid wat Sonop nou al vir 95 jaar kenmerk.

Die koshuishoof en huiskomitee sien op grondvlak toe dat hierdie huisreels deur die inwoners nagekom word. Gereelde verslag aan en insette van die Sonopraad in die verband vind op 'n deurlopende grondslag plaas.